Gesien teen die agtergrond van Geloftedag (16 Desember) wat nou pas verby is en die geweldige druk wat sekere groepe op die Afrikanervolk plaas om dit te onderhou, verg dat ons die saak vir ‘n slag in diepte ondersoek.  Ek het die grootste respek en deernis vir die mense wat betrokke was by die slag van Bloedrivier en ons kan onsself nie indink in die omstandighede waardeur hulle moes gaan nie.  Ek het ook waardering vir die mense wat wel die Geloftedag vier vir hul toegewydheid.

Kom ons ondersoek dan die “maak van ‘n gelofte” vanuit ‘n Bybelse grondslag en baie beslis moet ons die saak ondersoek vanuit die Nuwe Testament se perspektief – dit wat van toepassing gemaak kan word na die kruisdood van Christus en nadat die Kerk gebore is op die dag van Pinkster. Ek wil dit ook onomwonde verklaar dat die skrifontleding hierna nie noodwendig ‘n volledige studie van die onderwerp is nie, maar daar is wel ‘n paar vrae wat ons onsself moet afvra om vars perspektief te vind in dit alles wat ons glo en nastreef as kinders van God.  Soms doen ons iets, volg iets na sonder om die saak te ondersoek vir egtheid en waarde.  Dit is soos die telefoniste van ‘n sentrale in Ciskei wat elke dag getrou by die werk opgedaag het en gewag het vir die oproepe om deur te skakel, maar daar was niks.   Elke maand het hulle nog salaris ook ontvang, en niemand het navraag gedoen oor die feit dat geen oproepe meer deurkom nie.  Die boodskap dat die sentrale eintlik 6 maande gelede geoutomatiseer is, het nooit die bestemming bereik nie.

Jakob was sekerlik een van die eerstes wat reeds begin het om ‘n gelofte aan God te doen as gevolg van die situasie waarin hy verkeer het.

Gen 28:20- 2:  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,  en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.

Ander persoonlike geloftes sluit ook die volgende in:

  • Gelofte van die Nasireërs:
    • Waar diegene geen wyn of selfs enige produk van die druiwestok mag gebruik het nie asook ander wette wat hiermee saamgaan.
  • Gelofte deur leiers namens die volk Israel:
    • Num 21:2  Daarop het Israel aan die HERE ‘n gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk heeltemal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref.
  • Gelofte van Hanna om Samuel in die tempel groot te maak;
    • Interessant is die tipe gelofte van ‘n vrou om in haar desperaatheid om ‘n moeder te word, selfs ‘n gelofte aflê om die kind (waarna sy so gesmag het) in die tempel te laat groot maak.
    • Was haar sugtinge dan na ‘n kind wat sy self kon groot maak en ten volle deel van haar lewe kon wees, of was dit maar net om vervulling as vrou te vind?
  • Onverskillige beloftes/geloftes:
    • Jefta wat ‘n onverskillige gelofte aan die Here gedoen het en waar hy sy enigste kind en dogter moes offer (brandoffer) nadat God hulle in oorwinning (volgens die gelofte) oor die kinders van Ammon gestel het.  (Rigters 11:30 -31)
    • Interessant genoeg dat God het hom nie gestop om dit te voltrek nie.  Volgens die Wet moet jy betaal wat jy belowe:
      • Deu 23:21  As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.
    • Ons spreek baie keer ‘n vloek oor onsself uit in plaas van ‘n seëning.
  • Innerlike geloftes:
    • Persoonlike vloeke wat jy op jouself plaas, bv.
      • Ek sal nooit maer word nie;
      • Ek sal nooit weer ‘n man/vrou vertrou nie;

Ongeag die omstandighede (of die spesifieke rede of motief) waarin die mense die geloftes aan God gemaak het, sien ons dat God elkeen eerbiedig het (want God is getrou) en dat Sy naam daardeur verheerlik was.

Wat kan ons dan leer uit die geloftes van die verlede?

1.  Die mens sluit die gelofte met God – terwyl die mens geen waarborg vir teen-prestasie kan lewer nie;

  • Nuwe Testament leer ons om geen swering /eed te maak of gee nie
  • Mat 5:34-37:  Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning;  ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.  Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.

2.  Elke gelofte was voorskriftelik aan God gestel gewees met vereistes:

  • Elke gelofte begin of bevat die woorde: “As U … ;  Dat U…..”
  • Dit verklaar die spesifieke verwagting van die een wat die gelofte maak;
  • God moet eers Sy kant van die bargain volbring;
  • Hierdie verwagting is ook dan die voorvereistes om enige teenprestasie (volgens die spesifieke gelofte) te regverdig;
  • Die mens wil nog altyd God as ‘n dienskneg gebruik het.
  •  “Doen dit en dat vir my asb – straf die persoon – red hierdie persoon se siel – ens; 
  • Hoe kan God as God in ons lewens optree indien ons Hom soos ‘n dienskneg wil erken en misbruik?

3.  Weereens, elke gelofte was gemaak as gevolg van die spesifieke omstandighede waarin die persoon op die oomblik verkeer het.   Dit het dus gepaard gegaan onder groot druk van die situasie en nie uit vrye keuse nie.

  •  Die mens vandag (verwysend na die wat hulself Christene en kerkmense noem) is geneig om vinnig geloftes aan die Here te wil maak wanneer die “paw-paw” die fan gaan strike;
  •  Gewoonlik vind dit ook plaas in omstandighede waar ander mense nie meer kan of wil help nie.
  • Sodanige geloftes wil dit laat voorkom asof die Here soos ‘n noodapteek vinnig nader geroep word terwyl Hy elke dag deel van ons lewens wil wees;
  • Sommige geloftes neem selfs die vorm van ‘n dreigement aan.

4.  In die meeste gevalle was geloftes gemaak in aanvegtinge met spesifieke vyande:

  • Die woord vyand beteken:  Iemand wat ‘n ander haat en probeer om in dade daaraan uiting te gee – soldate teen wie geveg word – ‘n teenstander – satan is die vyand – iets soos drank kan ook ‘n vyand wees van die gesin;
  •  Maar wie is ons vyande dan vandag?
  •  Is dit die ANC regering?  Wat dan van die vorige regering (Nasionale Party) wat ook op ‘n tyd as die antichriste uitgekryt was?
  • Wat dan van die Engelse wat nog steeds ons land en besighede oorgeneem het?
  • Is almal wat dan ‘n ander velkleur en/of taal het ook ons vyande?
  • Wat van diegene wat by huise/plase inbreek en moor?  Is hulle net gewoonweg misdadigers of word hulle ook geklassifiseer as “vyande”.
  • Is almal wat dan nie soos ek dink en redeneer en dieselfde oortuiging kan handhaaf – my vyand?  Dit klink dan soos die Rooms Katolieke Kerk wat die oortuiging gehad het om almal wat nie hulle “geloof” wou aanvaar nie, te vervolg en dood te maak.
  • Wat dan van die bankinstellings en ander besighede wat in vandag se moeilike dae nog steeds mense se eiendom wil terugneem sodat hulle net meer wins kan toon aan die einde van die boekjaar?
  • Is ons geveg dan teen vlees en bloed (en teen sekere oortuigings (doktrines) van die Woord van God);
  • Of is ons as kinders van die Here Jesus se geveg teen die bose geeste en magte in die lug?

Eph 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Dan sien ons ook hoe die Here Jesus die hele siening en konsep van die benadering van vyande verander het:

  • Mat 5:44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;

En dit is juis hoekom die Kerk (die Bruid van Christus) so kragteloos en verdeeld is agv die verskille en omdat elkeen sy/haar individuele verskil (uniekheid; “waarheid”; competitive edge) wil beskerm ten alle koste en elkeen wat dit nie aanvaar nie word as ‘n “vyand” beskou.  Net jammer ons voer nie die skrif soos hier bo uit nie – dan sal SA dalk verander.

 5.  Dit sluit dan ook die teen-prestasie in van die persoon(groep) wat die gelofte maak;

  • Weereens, die Wet (Ou Testament) was pertinent hieroor dat jy moet betaal wat jy belowe;
  • Num 30:2  As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan.

 ‘n Goeie voorbeeld hiervan is om Jakob se gelofte hiervolgens te ontleed: (Gen 28:20- 21)  

  • God se prestasie wat verwag (voorgeskryf) word:

“As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,  en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom,

  • Jakob se teen-prestasie:

“dan sal die HERE my God wees”. 

 Jakob stel nie net een vereiste nie, maar sommer vier  – en alles gaan oor homself.

Hy probeer met God bargain.

Verwaand verby! 

Ons kan geen eise of voorvereistes aan ons God en Verlosser stel nie!  Sy genade is vir jou genoeg!  Take it or leave it!

Einde van Deel 1.

Past Eric Heath is the President of Galilee International Ministries (SA) in Pretoria and is available to lecture or minister on specific subjects as required. He can be contacted through this website.

4 people like this post.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *