Weereens wil ek dit onomwonde stel dat ek die grootste respek en waardering het vir mense se geloof en oortuigings, en dat die skrifontleding nie ten doel het om mense aan te val nie, maar bloot om lering vanuit die Woord van God uit te lig.  Ek glo in die Skrif wat die volgende verklaar:

  • “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”. (2Ti 3:16-17)
  • “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis;….(Hos 4:6)

Die feit dat ek sekere kerk tradisies en geloofsartikels en die viering van spesifieke dae vanuit ons geskiedens bevraagteken, beteken nie dat ek ‘n verraaier of minder Afrikaner bloed in my het nie.  Inteendeel, ek het ‘n verwagting in die Here Jesus om vir Hom ‘n nuwe volk in Suid Afrika bymekaar te maak wat Hom in Gees en Waarheid sal soek en aanbid vir wat en wie Hy is en nie volgens oorleweringe en ou tradisies nie.  ‘n Bruid wat die onderskeidingsvermoë het om te kan onderskei tussen reg en verkeerd en wat bereid is om te dien en nie gedien te wil word nie.  ‘n Bruid wat die opdrag van God duidelik verstaan en bereid is om die boodskap van versoening (Rom 5) ook na alle nasies sal uitdra.  Ongelukkig is dit so dat die Kerk haar onderskeidingsvermoë verloor het en volg allerhande “gimmicks” na in plaas van die Gees van die Here. 

U sal ook opmerk dat ek baie vrae stel – juis met die doel daarmee om nuwe denke te stimuleer en sodat uself u eie antwoorde daarvan kan ondersoek en vind.  

Hoe staan die saak met die viering van Geloftedag op 16 Desember

Die Gelofte van 16 Desember (volgens Wikipedia):

“Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy: ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring; en dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee”.

Ek glo die Voortrekkers wat die gelofte gemaak het, het vas in God geglo – nie net vir hul uitkoms op die dag nie, maar vir elke dag voor die tyd asook na die tyd.  In dieselfde konteks soos in Deel 1 bespreek, kan ons dan ook die gelofte wat op die dag van Bloedrivier gemaak was so ontleed.  Die spesifieke groep Voortrekkers het:

  • Die gelofte met God gemaak;
  • Dit was voorskriftelik en het sekere verwagtinge gestel; 
  • Dit was gemaak tydens spesifieke omstandighede van groot vrees en nood;
  • Daar was ‘n baie duidelike vyand ter sprake;
  • En dit het ‘n teen-prestasie ingesluit – wat nie net op hulself nie, maar ook aan hulle nageslag verbind was. 

 En geskiedenis stel die feite dat God se naam verheerlik is en dat Sy Woord getrou is – vir die wat in Hom glo!

Die probleem wat bestaan romdom Geloftedag vandag (reeds die afgelope 30 jaar):

  • Het te veel polities geraak waar die regerende party deur die opposisie partye (en vice versa) as die vyand afgemaak is in toesprake op sodanige vierings;
  • Dat kerkgroepe en individuele faksies ook die dag gebruik om persoonlike agendas te verkondig en die massas probeer opsweep teen die “vyand” in die land terwyl bitter min dank aan God gebring word ter herinnering van die groot verlossing wat God bewerkstellig het aan dié wat in Sy Naam geglo het;   
  • Die Voortrekker Monument wat opgerig is jare later ter herdenking van die slag van Bloedrivier is deur die Vrymesselaars gekaap en is niks anders as ‘n altaar van son aanbidding nie.  Dit is nie ‘n “huis” in die sin van ‘n kerkgebou waar gereeld dienste tot eer van God gehou word nie. Baie kerkleiers is deeglik hiervan bewus maar verkies om die feite te ignoreer;
  • ‘n Persoonlike bekommernis wat ek koester rondom die spesifieke gelofte (soos verkry op die Webblad), is dat daar so in die algemeen na die God van hemel en aarde verwys word en nêrens word Jesus Christus se Naam vermeld nie.  Dit wil vir my voorkom asof die gelofte afgelê is in die “afwesigheid” van God – asof Hy nie in hul midde was nie want hulle het Hom nie direk geadresseer nie.  Die Skrif leer ons tog dat ons alles in die Naam van Jesus Christus moet vra.    

By die pas afgelope Geloftedag viering by die Voortrekker Monument, het Ds Thomas Dreyer van die Hervormde Kerk (Wapadrand) gevra of die Geloftedag nog relevant is.  Miskien moes die vraag gewees het: Is die Gelofte wat afgelê is enigsins skriftuurlik en kan dit op ons vandag van toepassing gemaak word?

Die vraag word dus nou pertinent gevra: 

Kan iemand ‘n gelofte aan God doen en dan sy en ander mense se nageslag (wat eintlik geen deel hieraan het nie) vasmaak om dit deur die geslagte te MOET vier?  Terwyl Jesus ons kom verlos het van die Wet, hoe kan ons dan onder ‘n nuwe mensgemaakte wet (gelofte) verplig staan?  Is dit werklik op alle Afrikaners van toepassing, of net op die nageslag van die Voortrekkers wat die gelofte gemaak het? 

Skrif verklaar die saak soos volg:

Num 30:2  As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan.

  • Ecc 5:4  (5:3) As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.
    • Volgens die skrifte word slegs die een wat die gelofte maak daaraan verbind. 
    • Nerens sien ek dat ‘n verpligting op ‘n volk en dié se nageslag geplaas is agv een man/groep se gelofte wat hy/hulle gemaak het nie. 

Hoekom is sommige Suid Afrikaners so gesteld om die Geloftedag te vier wat deur ‘n ander persoon vir ‘n spesifieke groep mense se nood uitgeroep is; terwyl hulself nie die gelofte van ewige trou (wat hulself wel voor God gedoen het) aan hul vrouens /mans wil nakom nie?  Voornoemde dan gesien teen die agtergrond dat Suid Afrika een van die hoogste egskeidingsyfers in die wêreld het. 

  • Aan die uitkoms van Bloedrivier kan ek en jy niks meer maak nie – ons dank God daarvoor;
  • Maar aan die gelofte voor God oor ons huwelik en huweliksmaat – daaraan kan en moet ons nog baie doen (elke dag) en sodoende die daaglikse meelewing daarvan positief beinvloed. 
  • Gaan God ons as mans/vrouens nie eendag eerder oordeel op grond daarvan hoe ons, ons huwelike en kinders benader het nie? 

 Miskien moet ons dan eerder ‘n Versoeningsdag uitroep: (een spesifiek vir die Kerk):

  • Waar kerkgroepe en leiers oor kerkgrense heen kan versoen en kan saamstaan teen die ware vyand vir ons land – die bose geeste en magte in die lug wat in mense werksaam is. 
  • Waar ons as Suid Afrikaners onsself kan verootmoedig voor God en ons sondes bely sodat Hy ons land kan genees;                  
    • 2Ch 7:14-15  if my people who are called by my name humble themselves, and pray and seek my face and turn from their wicked ways, then I will hear from heaven and will forgive their sin and heal their land. Now my eyes will be open and my ears attentive to the prayer that is made in this place.  
    • Vers 15 verklaar die tipe gebed en verootmoediging waarna die Here wil luister. 
    •  Het jy geweet die woord “Revival” is in die engelse weergawe van die teks vasgevang?
  • Waar ons gaan ophou om klippe na mekaar te gooi oor spesifieke oortuigings en wat net verdeeldheid bring, terwyl die Here Jesus se gebed spesifiek was dat ons as Kerk EEN sou wees.  Dat ons in eenheid teen die magte van die bose kan saamstaan.   
    • Ek wonder hoeveel dedicated kinders van die Here gaan hiervoor wil opstaan.
    • Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Rom 8:19 

Volgens die Nuwe Testament is daar niemand wat ‘n gelofte afgelê het behalwe Paulus en vier ander manne wat die Nasireër gelofte nagevolg het.  Inteendeel, Christus het die volk se navolg van ou tradisies en sekere leringe sterk aangespreek. 

  • “En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. (Mar 7:6-7)
  • “So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. (Mar 7:13) 

Alhoewel sekere manne (en vroue) in die Ou Testament ‘n spesifieke gelofte met God gesluit het, is dit eintlik teen die grein van die Woord van God, veral volgens die Nuwe Testament.  Vanaf Genesis tot in Openbaring is dit tog duidelik dat God met die mens ‘n verbond sluit – ‘n gelofte aflê – om die mens (soos Abraham) te seën. Al die voorbeelde in die Woord verklaar dit ook so: Noag, Abraham, Israel; ens. 

Die hele verlossingsplan deur die bloed van Christus is juis so ‘n voorbeeld waar God die verlossing bewerkstellig deur Sy genade sodat die mens geen aandeel hierin kan hê om in te kan roem nie.  Ek wil dit onomwonde verklaar dat indien die Verlossingswerk van Christus sou plaasgevind het as gevolg van ‘n gelofte wat die mens aan God gemaak het – dan was dit vandag nutteloos en kragteloos en sou die mens daarin kon roem dat hulle hul eie verlossing bewerkstellig het deur die gelofte af te lê.

Kom ons vra die vrae: 

  • Sal God die Voortrekkers ook beskerm en verlos het teen die Zoeloes terwyl hulle net Sy Naam om hulp aangeroep het, en geen gelofte afgelê het nie?
    • Ja, ek glo beslis want God is nog steeds getrou.   
  • Het God hulle verlos juis omdat hulle die gelofte afgelê het? 
    • Nee geensins, want God stel nie belang in ons ydele teenprestasies nie.  Hy verlos omdat Hy kan en wil en instaat is om die onmoontlike, moontlik te maak. 
    • Daar is so baie voorbeelde uit die Ou Testament waar God Sy volk verlos het in omstandighede wat net eenvoudig nie moontlik was nie – soos Gideon met die 300 manne en Koning Josafat, ens
    • God werk met geloof (“and submission”) en nie met ons teen-prestasies en beloftes nie. 

Ons staan dan juis in Sy nuwe verbond wat verseël is met die bloed van Christus en waardeur Hy ons beskerm en voorsien.  Koning Dawid was gereeld op vlug voor sy vyande maar ek sien nie enige gelofte wat hy afgelê het nie, maar het wel baie keer uitgeroep in benoudheid soos volg:

  • Ek roep die HERE aan in my benoudheid, en Hy verhoor my. (Psa 120:1) 

Hoekom moet ons God dan iets belowe terwyl Hy reeds die beloftes aan ons gegee het?

  • 2Co 1:20  Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.
  • Heb 11:6  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Wanneer ons ‘n gelofte met God wil sluit om die uitkoms van ‘n saak te verseker, tree ons nie dalk op vanuit ‘n posisie van ongeloof en twyfel nie?  Wanneer twee mense bid, kan die een bid uit ‘n posisie van oorwinning terwyl die ander een uit ‘n posisie van nederlaag (defeat) dieselfde gebed bid – al is beide in dieselfde situasie.  En ek is baie deeglik bewus van omstandighede waar vrees jou wil beetpak en jy aan jou eie geloof en roeping begin twyfel  – of dit sterk genoeg is.   Daarom probeer ons om God se arm te draai met verdere beloftes en soms selfs dreigemente.  Ons probeer met Hom bargain soos Jakob.  And I have been there, done it, got the T-shirt,etc. 

God sluit ‘n verbond met Noag, Abraham en Sy volk asook met ons as kinders van God (Nuwe Verbond) deur geen voorvereiste aan ons te stel nie, behalwe:

  • Geloof in God (en ook om Hom ten volle te vertrou). 
  • Wedergeboorte 

Christus draai hierdie scenario van die geloftes (bargaining ) van die mens met God op sy kop. Inteendeel, God stel al die voorskrifte vir Homself op – dit wat Hy sal doen as deel van die verbond wat Hy met ons as mens sluit.  En elke verbond se volbringing – om dit geldig te maak – het gepaard gegaan met ‘n offer (sacrifice) as bewys van Sy eed tot die saak.  Christus is dan ook die volmaakte offer om God se verbond met ons te verseël.  Maw, ons het ‘n volmaakte verbond van God af met ons asook die volmaakte verseëling (offer) met die bloed van Christus. 

Waar die mens eers verklaar het: “As U…..”

Nou kom die Here Jesus en verklaar aan ons: 

  • As julle iets in My Naam vra….sal Ek dit doen. (Joh 14). 
  • Hy plaas die verantwoordelikheid  weer terug op ons as mens om die eerste deel na te kom  – omdat God altyd getrou is om Sy deel te bring.  
  • En Hy het reeds alles vir ons volbring.  Al wat oorbly is om te glo en die Here Jesus te vertrou in alles en vir alles in ons lewens.  Daar word nie van ons verwag om ‘n gelofte te moet aflê om die arm van die Here te moet draai nie. 

Die kruisdood van Christus was en is volmaak en ons ontvang die volle genade en seëning van God.  Die genade van God is ‘n geskenk – jy kan dit nie verdien nie en nog minder daarvoor bargain.  Die Here Jesus is ook nie ‘n aannemer van die persoon nie – niemand is beter as die ander nie. Solank as wat jy met Christus beklee is, is jy ‘n volle erfgenaam en ‘n geseënde in die Here:

“Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename. (Gal 3:24-29)

Die Here is deeglik bewus van jou saak en situasies – elke dag – elke minuut.  Soms bid ons en wil vir die Here vertel van ons eie situasies asof Hy nie bewus is van ons nie, of dalk nie omgee nie.  Weereens, indien jy ‘n wedergebore kind van God is en Hom liefhet met jou hele hart, dan is jy spesiaal in Sy oë en IS Hy ten volle bewus van jou daaglikse situasies.   Elke nuwe dag en nuwe “challenges” bevat alreeds genoeg genade en beskutting van ons Vader.  Ons geloof moet dan ook van so ‘n aard wees om dit te glo wat ons vra in die Naam van Jesus Christus, dan ook so sal wees.  Christus is ‘n beloner van dié wat Hom soek in geloof. 

Ander Skrifontledings:

  •  Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose.( 2Th 3:3) 
  • Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.(1Co 10:13) 
  • Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.(1Pe 5:6-7) 

 Past Eric Heath is the President of Galilee International Ministries (SA) in Pretoria and is available to lecture or minister on specific subjects as required. He can be contacted through this website.

5 people like this post.

Categories: InZpired

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *