Ek skryf hierdie inset in Afrikaans om juis ons Suid Afrikaners te bereik met hierdie woord.  

Die afgelope paar weke het ons verskeie professieë gehoor en gelees wat deur verskillende mense vir die Kerk asook vir Suid Afrika vir die jaar 2011 gegee is. 

Soos in vorige skrywes genoem, nie elkeen wat sê hy/sy is ‘n profeet, is werklik ‘n profeet van God af nie want die Woord waarsku ons ook dat daar in die laaste dae baie valse leraars en profete gaan opstaan.  En dit is juis die probleem wat die Kerk ondervind dat die Bruid haar gees van onderskeiding verloor het.  Sodra iemand hom/haarself aan my voorstel as ‘n “Profeet”, dan maak my maag ‘n paar draaie en dit is nie agv iets wat ek geeet het nie. 

Die afgelope 15 jaar in die bediening het ek baie geleer en leer daagliks iets nuuts en die Gees van die Here is altyd getrou om die waarheid te openbaar wanneer ons iets nie verstaan nie.  

  • En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. (Jak 1:5) 

Ons het al gehoor en gesien waar “profete”/besoekende leraars/ dansgroepe/ ens vir ons persoonlike bediening of vir die plaaslike gemeente baie woord gehad het, wat gewissel het van:

  • Die Here gaan die gemeente finansieel seën – alle skuld aflos; 
  • Die Here gaan baie mense instuur en die gemeente gaan vol word;
  • Die Here gaan die werkers vir die oes instuur, ens.  
  • Dat hierdie gemeente 7 dae ‘n week kerk gaan hou agv die honger en dors na die Woord in die gemeenskap.

Oor al hierdie mooi professieë het ons gaan bid en die Here daarvoor gedank en dit in die geloof “ingeroep” – maar nie een daarvan het in die afgelope 13 jaar gerealiseer nie.  Was dit dan nog nie die “timing” van die Here gewees nie?   Nie volgens wat die strekking van die profetiese woorde was nie. 

Ons het selfs ‘n suster of twee gehad wat baie mooi opbouende profetiese woorde vir die gemeente gehad het aan die begin en 9 maande later is ons as vals gekenmerk omdat hulle nie met ons doktrine as fondasie volgens God se Woord saamgestem het nie.  So wie is dan vals?  As die gemeente en die leringe vals is, dan beteken dit tog ook dat die professie ook vals was ?  Of het die volle waarheid in die doktrine dalk teen hul eie tradisie godsdiens ingedruis? 

Dit is so maklik om ‘n “profetiese woord” vir iemand te gee en hulle sal dit vir soetkoek opvreet. Kom ons toets dit:

  • As ek sou verklaar dat daar ‘n persoon is wat nou sukkel met kopseer terwyl hulle hierdie brief lees;
    • Wat gaan die moontlikheid wees dat 3 – 5 mense uit 50 gaan reageer en sê hulle het kopseer?
    • Is dit die profetiese gawe of is dit ‘n goeie raaiskoot; of
    • Is dit mensekennis wat verklaar dat te enig gegewe tyd gaan daar iemand wees (in ‘n kerkdiens ook) wat nou kopseer; rugpyn of maagpyn (veral onder die swartes) het.  
    • En mense buit dit uit onder die vaandel van “professie” om goed te lyk, om te bewys hulle het die “anointing” en dat hulle erken moet word.  
  • Die Kerk is so gereed vir die Ant-Chris dit is eintlik skrikwekkend!  Mense volg en glo alles wat gebeur– selfs die genesings wat plaasvind. Het u geweet dat sangomas ook kan genees en dat die Anti-Chris ook verskeie wonderwerke gaan laat plaasvind.  En dit het absoluut niks met die krag van God te doen nie!
  • Twee weke gelede ‘n oproep ontvang rakende ‘n “profeet” wat by ‘n werkplek gewerk en begin het om die personeel asook die eienaar te salf en vir hulle te bid.  Die uiteinde hiervan is dat die “gees” in haar begin manifesteer het en het aan die eienaar se vrou geskreeu dat sy nie daar hoort nie en dat die eienaar eintlik by haar moet wees.  Dit is Jesebel geopenbaar!  Die personeel sit vasgevang is allerhande vrese en môre oormôre stap die “profeet” weer by ‘n ander plek in. 
  • In Venda sal jy instap in een van die kerke vanuit Nigerië en iemand sal flou val “onder die gees”. Bietjie later word die persoon wakker en wanneer die pastoor die persoon vra wie hy/sy is, sal die persoon in die stem van iemand anders praat en al die sondes van die bertrokke persoon openbaar.  En dit vind plaas onder die dekmantel van die profetiese gawe? 

Ek en my vrou het die afgelope paar maande verskeie kerke in Pretoria besoek om ‘n vars persektief aangaande die bediening van die Liggaam van Christus te kry.  Ons opsomming en waarneming van dit wat in kerke deesdae plaasvind is skrikwekkend en dit is nie om kerke of leiers af te kraak nie.  Die uiteinde van ons vraagstuk is nog steeds: Waar sal ons die ware Gees van God vind? 

Wees gewaarsku!  Die Satan raak al hoe meer arrogant in sy optrede omdat die Kerk kragteloos en dood is.     

Is ek dan totaal en al gekant en negatief teen profetiese woorde?

Nee geensins nie, maar ek weet vir ‘n feit dat die Gees van God nie opereer waar die valsheid in outoriteit en erkenning aanvaar word nie.   Ons het al baie profetiese woorde ervaar wat vir ander mense asook vir myself en my vrou gegee is waar ons geweet het dit is ‘n Woord van God – net Hy alleen het dit geweet wat nou verklaar was. En ons kan ook sien hoe die Here die Woord in vervulling bring en Hy kry al die lof en eer. Onsself het ook al profetiese woorde vir mense gegee en dan toets ons dit om seker te maak jy praat nie uit die vlees nie.    

Net gisteraand in ‘n pinkster kerk in Les Marais, Pretoria het daar ‘n taal uitgegaan en ‘n paar sekondes later het die pastoor van die aand die uitleg gegee.   Dit is so NIE van die Here nie want die een oomblik praat hy so asof die Here nou self praat en die volgende oomblik praat hy skrif en van die Here.  So wie gee nou die uitleg? Van wie kom die woord dan nou?  Dit bots onmiddelik met die Gees van God in ons en dit breek die salwing en krag van God se Gees af in ‘n diens.  Maar die leiers spreek dit nie aan nie en laat dit maar toe.  Dieselfde prediker het ook later verklaar “hy het ‘n boodskap uit die Troonkamer van God” vir ons, maar dit het toe nie so geblyk nie want daar was ook geen “revelation knowledge” nie.  Wanneer ‘n prediker ‘n boodskap vanuit die Troonkamer ontvang is dit altyd ‘n vars nuwe openbaring van die skrif, kragtig en vrymakend. 

Is ek krities oor die verrigtinge in ‘n kerk?  Ja baie beslis want omdat die valsheid in kerke seëvier word ons beroof van die intieme teenwoordigheid van God se Gees, waar alles in ‘n oogwink kan verander.   Siekes word genees, vrymaking vind plaas en harte word spontaan aan die Here Jesus gegee deur die stap van wedergeboorte.   Wanneer laas het jy gesien iemand in ‘n plaaslike diens werklik tot bekering kom?  Ek praat nie van die wat hul hande opsteek om by die gemeente aan te sluit nie. 

Kom ons kyk na ‘n bekende kerkgenootskap wat daarin spesialiseer om profetiese woorde vir mense in die gemeente te gee, maar sommige van hierdie professieë is niks anders as ‘n vloek wat oor jou uitgespreek word: 

  •  ‘n Bekende voormalige moderator van die Lede in Christus het laasjaar in ‘n kerkdiens (wat ek persoonlik bygewoon het) vir ‘n man gesê “dat iemand in sy familie gaan tot sterwe kom sodat hy kan weet dat hierdie woord van God af kom. Maar hy moet hom nie bekommer oor wie dit gaan wees nie, die Here sal dit vir hom voor die tyd wys.” 
    • Wow ! en dan moet die man nie stress oor wie nou tot sterwe gaan kom nie – om nie eers te praat van skuldgevoelens nie.
  • Of die een aan ‘n jong man:  “As jy nie jou saak met God regmaak nie gaan jy jou lewe verloor” 
  • Of nog een by ‘n tentveldtog deur ‘n ander evangelis: “As jy nie vanaand jou saak met God regmaak nie; kan jy jou lewe verloor wanneer jy hierdie diens verlaat”  

God het nog nooit iemand gedreig om sy saak met Hom reg te maak nie. Daar is net een wat vrees aanwakker – en dit is Satan self want vrees is sy grootste wapen.  Die evangelie van Jesus Christus is vir die wat wil en wat glo! 

  • Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Rom 1:16 

Die mees algemeenste bewoording wat die “profete” deesdae gebruik is soos volg:

  • “ En die Here sê jy gaan nie meer langer die stert wees nie; die Here sê Hy gaan jou die kop maak”. 
  • En dit kom natuurlik uit die skrif en nou kan die vraag gevra word of dit werklik profeties is of nie: 
    • Deu 28:13  En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen,
  • Die nuutste:Daar gaan ‘n wereldleier in die jaar tot sterwe kom en die land se vlae sal halfmas hang”  – terwyl die hele wereld omtrent asem ophou oor die huidige gesondheid van oud President Mandela.  Vanweë sy ouderdom het niemand ‘n graad nodig of enige onderskeidingsvermoë nodig om te bespiegel dat hy heel moontlik die jaar kan sterf nie.  Bloot ook gesien dat hy bereik het wat hy wou bereik (die wereldbeker sokker in SA) asook dat een van sy geliefde kleinkinders ook in die tyd dood is .
  • En daar kan sekerlik nog baie meer ook wees wat mense hoor en dan herhaal as profetiese woord omdat sit so “mooi” klink.  

Volgende deel sal handel oor professieë wat verskeie mense vir die Kerk vir 2011 gegee het.

3 people like this post.

Categories: InZpired

1 Comment

Chris Groenewald · October 7, 2014 at 5:42 am

Lekker om deel te wees van die evagelie

Leave a Reply

Avatar placeholder

Your email address will not be published. Required fields are marked *