Profesie vir en in die Kerk (deel 4)
Die derde aspek wat ek in hierdie deel 4 wil aanspreek is die vrees wat in mense se lewens ontketen word.
- Waar mense kos en water bymekaar maak en wil vlug na afgeleë plekke toe;
- Die vreesagtigheid begin later alle logiese denke oorskry;
- Die Woord verklaar die volgende aan ons:
- Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. 2Ti 1:7
- As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe. Job 3:25
Job se een probleem was juis sy vreesagtigheid oor sy kinders en dit het ‘n deur oopgemaak vir satan om te kom steel. Ek en jy is eintlik geborge in Christus maar sodra ons vrees toelaat (wat die teenoorgestelde van geloof en vertroue is) dan maak ons self die deur oop. Miskien is daar dalk al klaar ‘n groep mense bymekaar wat reeds ‘n nuwe gelofte aan God afgelê het dat hulle nog ‘n dag sal heilig en aan God toewy indien Hy hulle sal beskerm teen hierdie Nag van die lang messe. Sien ook my vorige lesing op hierdie webblad mbt die aflê van geloftes met God. In die konteks van die Nuwe Testament is dit onskriftuurlik en die fondasie daarvan is ongeloof en gebrek aan vertroue in God wat ons Skepper en enigste Verlosser is.
Hoekom is die kinders van die Here Jesus dan so vinnig om vreesagtig te raak terwyl ons al die beloftes het van beskerming, krag en outoriteit asook oorwinning. Kyk na die volgende:
- Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is; Jer 17:7
- Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners. 1Pe 3:12
- En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. Heb 11:6
- En wat van Ps 23 wat ons so gereeld sing en voorlees in die kerke? Is die Here dan nie meer ons Herder nie?
- Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. Ps 23:4-6
- Wanneer ek en jy ‘n kind van God is, dan is elke belofte in die Woord ook vir my en jou bedoel:
- Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. Jer 29:11 – 13
- Wanneer ek en jy ‘n kind van God is, dan is elke belofte in die Woord ook vir my en jou bedoel:
- Alhoewel die Apostels vervolg was en baie beproewinge deurstaan het, het hulle soos Petrus op die positiewe gefokus:
- Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. 1Pe 1:3-5
Ek reken die rede hiervoor is dalk die feit dat dié mense wat Siener van Rensburg se voorspellings so graag aanhang, ken elke aspek daarvan in detail maar ken nie werklik die Woord van God nie. Hoekom is ons vinnig om ‘n negatiewe woord oor ons lewens af te sny en kragteloos te verklaar, maar daar is nog steeds mense wat hierdie negatiewe woord vir die land aanhang en dit krag gee met hul woord (tong)?
